WES-KAAP. – Warren-Lee Dennis (40) het Dinsdag vlugtig in die Kaapstad-landdroshof op aanklag van die moord op Wendy Kloppers (49) verskyn. Die saak is tot 27 Junie uitgestel en die verdagte bly in aanhouding.
AO Joseph Swartbooi sê die saak is uitgestel terwyl nog aanklagte by die saak gevoeg word. Die verdagte is Maandag in hegtenis geneem, nadat die misdaad op 16 Februarie 2023 plaasgevind het.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Dennis word van moord, poging tot moord, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie aangekla.
Lt.genl. Thembisile Patekile het die ondersoekspan geprys.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Wendy Kloppers (48), ‘n Metro-amptenaar, is op 16 Februrie by die Power Construction N2 Gateway-perseel in Delft, Kaapstad doodgeskiet. ‘n Verdagte (40) verskyn vandag in die Kaapstad-landdroshof.
Kapt. Frederick van Wyk sê speurders was op die verdagte se spoor en hy het homself aan die polisie oorhandig.
Op die betrokke dag is ‘n skietvoorval, omstreeks 11:30, op die hoek van Magalies- en Mandarastrate aangemeld. Verdagtes het glo te voet by die konstruksieterrein waar huise gebou word, opgedaag en gevra om met ‘n onbekende persoon te praat. Hulle het daarna skielik lukraak op persone begin skiet.
Wendy Kloppers het op die toneel gesterf en ‘n tweede slagoffer (40) is in die arm gewond.
Die verdagte verskyn vandag op aanklagte van moord en poging tot moord in die hof.