MINNESOTA, VSA. – Die verdagte in die skietery van twee Demokratiese wetmakers en hulle families was glo op die dag van die aanvalle by die huise van nog twee Demokratiese wetmakers.
Lees ook: Verdagte in hegtenis vir aanvalle op wetmakers
Vance Luther Boelter (57) was glo Saterdag by die huise van nog twee wetmakers, maar een was weg met vakansie en hy moes die ander huis verlaat nadat die polisie gebel is.
Boelter word aangekla van die moord op die speaker, Melissa Hortman, en haar man, Mark, en die skiet van ‘n senaatlid van die staat, John Hoffman, en sy vrou, Yvette. Hy word aangekla op ses federale aanklagtes en kan tot die dood gevonnis word as hy skuldig bevind word.
Prokureur Joseph H Thompson het gesê die Hoffmans het ’n kamera in hulle huis gehad wat gewys het hoe Boelter met ’n “hiperrealistiese silikoonmasker” hulle voordeurklokkie gelui het en geskree het: “Dit is die polisie, maak oop die deur!”. Volgens Thompson wys die beeldmateriaal Boelter het ’n flits in hulle oë geskyn toe hulle die deur oopmaak en gesê daar was ’n skietery by hulle huis aangemeld voor hy die flits laat sak het. Thompson het gesê hulle het besef hy is nie ’n polisiebeampte nie en het hom probeer wegjaag, waarna hy hulle verskeie kere geskiet het en toe gevlug het.
Volgens Thompson het Boelter ná die skietery by die Hoffmans se huis na ’n ander wetmaker se huis gery en die klokkie gelui, maar sy en haar familie was nie tuis nie. Boelter het toe glo na nog ’n wetmaker se huis gery, waar ’n polisieman langs hom stilgehou het en aangeneem het hy was ook ’n polisiebeampte wat gestuur is om te kyk dat die wetmaker veilig is. Daarna is Boelter na die Hortman-woning.
Die polisie het op die toneel aangekom toe Boelter Mark Hortman skiet. Melissa Hortman is dood in die huis gevind. Die paar se hond is ook geskiet en moes van kant gemaak word.
Boelter sal weer op 27 Junie in die hof verskyn.
Bronne: BBC, Boston Herald, CNA





