Verdagte in sluipmoord op staatsaanklaer vasgetrek

Lees ook :

Foto: Women For Change

OOS-KAAP. – ’n Verdagte (33) is deur die Valke in hegtenis geneem nadat Tracy Brown (42), ‘n New Brighton-streekhofaanklaer, op 31 Julie in Gqeberha voor haar huis doodgeskiet is. Die aanval is glo deur vier gewapende mans in die teenwoordigheid van haar lewensmaat uitgevoer.

Lt.kol. Avele Fumba, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die verdagte wat geïdentifiseer is, het ná die voorval na Johannesburg gevlug. Die polisie het ‘n wenk gekry dat hy op 21 Augustus terug na Gqeberha sou reis, en hy is tydens ’n padblokkade in hegtenis geneem. Hy is in aanhouding en sal Maandag op aanklagte wat met die sluipmoord verband hou in die Gqeberha-landdroshof verskyn.

Genl.maj. Mboiki Obed Ngwenya, provinsiale hoof van die Valke, sê: “Die arrestasie is ’n belangrike stap vorentoe, maar beslis nie die einde nie. Die Valke sal nie toelaat dat misdadigers die regstelsel intimideer nie en sal verseker dat almal agter die genadelose moord voor die gereg gebring word.”

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het in ‘n verklaring gesê Brown het omstreeks 15:30 by haar huis in Lottonstraat, Young Park, aangekom. Terwyl sy nog in haar Toyota Etios gesit het, het vier gemaskerde mans in ’n wit VW Polo opgedaag en verskeie skote op haar voertuig geskiet. Brown is hospitaal toe geneem waar sy met aankoms dood verklaar is. Enigiemand met relevante inligting is gevra om AO Errol Kleinhans by 083 243 4567 te bel.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief