MPUMALANGA. – ‘n Verdagte (59) is Woensdag in die uitvoering van Operasie Bad Vibes in Standerton in hegtenis geneem. Op die toneel is op meer as 56 000 video’s en foto’s wat kindermolestering uitbeeld, beslag gelê. Die verdagte het Donderdag in die Standerton-landdroshof verskyn en die saak is vir ‘n formele borgtogaansoek tot vandag uitgestel.
Lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordoerder, het Vrydag in ‘n verklaring gesê hierdie inhegtenisneming bring die aantal arrestasies onder Operasie Bad Vibes op 16 te staan. Op 30 Julie 2025 het ’n geïntegreerde span ’n soek-en-beslagleggingslasbrief uitgevoer, wat tot die verdagte se inhegtenisneming gelei het. Die polisie het op verskeie digitale toestelle en 15 gelisensieerde vuurwapens beslag gelê.
Terwyl die toneel deur forensiese deskuldiges verwerk is, is daar op die kindermolesteringsmateriaal afgekom. Die operasie is in samewerking van die eenheid vir reeks- en elektroniese misdaadondersoeke (SECI), met ondersteuning van die Amerikaanse departement van Homeland Security Investigations (HSI), die Amerikaanse ambassade, die plaaslike kriminele rekordsentrum (PKRS) en plaaslike vuurwapenbeamptes uitgevoer. Die forensiese ondersoek duur voort.
Luidens die verklaring is Operasie Bad Vibes in 2023 as ’n gesamentlike inisiatief van stapel gestuur, met die doel om persone in Suid-Afrika op te spoor en in hegtenis te neem wat op globale skaal met die toegang tot en besit, vervaardiging en verspreiding van kindermolesteringsmateriaal verbind word.





