NOORDWES. – Letlhogonolo Mokati (29) sal vandag weer in die Bafokeng-landdroshof in Tlabane vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en elektroniese storingstoestel verskyn. Die beskuldigde doen vandag formeel vir borg aansoek.
Brig. Sabata Mokgwabone sê Mokati is op 15 Maart gedurende ‘n operasie deur OOP, sigbare polisiëring, blitspatrollie en speurders in hegtenis geneem. Inligting van verdagtes wat vermoedelik by ‘n vlaag kapings in die Rustenburg-area betrokke was, is ontvang. Twee verdagte VW Polo-voertuie is by ‘n huis opgemerk en ‘n soektog is uitgevoer. Niks onwettigs is op die perseel gevind nie, maar meer inligting het na ‘n huis in Rustenburg-Noord gelei. Daar is Mokati in besit van ‘n 9 mm-pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is, asook ‘n storingstoestel gevind en in hegtenis geneem.
Die ondersoek duur voort.





