MPUMALANGA. – ‘n Verdagte (25) verskyn Dinsdag op aanklagte van huisbraak, aanranding met die doel om ernstig te beseer en verkragting in die periodieke hof op Dientjie. Hy is drie maande gelede ook vir soortgelyke aanklagte in hegtenis geneem.
Kapt. Magonseni Nkosi sê volgens inligting het die verdagte glo Woensdagnag by ‘n bejaarde vrou (77) se huis in die Dikweteng-woonbuurt ingebreek. Hy het haar na bewering brutaal aangerand en vir twee dae herhaaldelik verkrag. Sy kon Vrydag hulp ontbied en is gehospitaliseer. Die verdagte is Sondag op Orighstad deur die polisie in hegtenis geneem.
Met voorlopige ondersoek is vasgestel die verdagte het glo in Maart ‘n ander bejaarde vrou (83) in die Didimala-woonbuurt in Dientjie verkrag en met ‘n skerp voorwerp gesteek. Sy is in ‘n hospitaal opgeneem, maar het in Mei gesterf.
Die verdagte was in hegtenis, maar is op borg van R1 000 vrygelaat.
“Die verdagte se optrede is werklik ontstellend en ons sal seker maak dat die voorval deeglik ondersoek word sodat geregtigheid vir die bejaarde burgers kan geskied,” sê genl.maj. Zeph Mkhwanazi, die provinsiale kommissaris van die provinsie.





