WES-KAAP. – ‘n Verdagte (19) het verlede Woensdag sy rieme styfgeloop toe hy glo ‘n goue hangertjie van ‘n Noorse toeris se nek gegryp het. Nadat die verdagte aangekeer is, het hy die hangertjie ingesluk en dit kon nie dadelik aan die slagoffer teruggegee word nie.
Volgens die Cape Town Central City Improvement District (CCID) het die voorval op die hoek van Darling- en Laer Parlementstraat plaasgevind. Die slagoffers het hulle dadelik na ‘n CCID openbare veiligheidsbeampte gewend wat op patrollie was, om hulp te verkry. Hulp is ingeroep waartydens die verdagte in hegtenis geneem is en na die Kaapstad Sentraal-polisiekantoor geneem en van roof aangekla is.
Die CCID waarsku toeriste om nie goue hangertjies in die middestad te dra nie, aangesien diefstal van hangertjies ’n gereelde vorm van misdaad daar is.





