MPUMALANGA. – Die beweerde verdagte wat Nico Steyn (46) tussen 28 en 29 November 2024 op die plaas Bosmanspan, in Hendrina, vermoor het, word gesoek. Piet Steyn, sy bejaarde pa, is in die kattebak van ‘n voertuig aangetref en Sannie Steyn, sy ma (80), is na bewering in ‘n voertuig verkrag, ontvoer en later in dieselfde voertuig, verlate langs die pad, aangetref.
Lt.kol. Jabu Ndubane sê die Hendrina-polisie ondersoek ‘n saak van moord, verkragting en ontvoering. Volgens inligting tot die polisie se beskikking het die verdagte glo die dag omstreeks 16:00 die plaas betree en die klaer se seun vermoor. Die oorledene se 80-jarige moeder is daarna in ‘n voertuig op die eiendom verkrag. Die booswig het daarna ook haar bejaarde man (die oorledene se vader) in die kattebak van ‘n motor gedwing en hom daar gelos.
Die slagoffer se bankkaart is voorts gebruik om R5 000 by ‘n vulstasie op Bethal te onttrek. Die verdagte het die klaer se voertuig bestuur, met die verkragtingslagoffer in die voertuig wat hy later in eMbalenhle agtergelaat het toe hy ‘n verbygaande polisiewa opgemerk het.
Die polisie doen ‘n beroep op enige persoon met inligting wat kan help om die verdagte op te spoor en in hegtenis te neem, om AO Tebogo Moakamedi by 082 303 9899 te bel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com