MPUMALANGA. – ‘n Verdagte (33) het homself Woensdag aan die polisie oorhandig nadat hy glo Vrydag ‘n sekswerker in ‘n plaashuis op Belfast doodgemaak het.
Kol. Donald Mdhluli sê die verdagte het glo die vrou in ‘n straat gaan haal en na ‘n plaashuis op Belfast geneem. ‘n Struweling het tussen die twee persone uitgebreek waartydens die verdagte die vrou glo verwurg en met ‘n skerp voorwerp gesteek het. Nadat hy besef het sy is dood, het die verdagte die vrou se liggaam in ‘n vlak graf begrawe, wat hy met stene bedek het.
Die polisie is op soek na die vrou se familie. Haar liggaam is Woensdag uit die vlak graf gehaal.
Die verdagte sal na verwagting Vrydag op ‘n klag van moord in die Belfast-landdroshof voorkom.





