KWAZULU-NATAL. – ‘n Verdagte (34) is gearresteer nadat hy glo Donderdagaand twee polisiebeamptes van Greenwood Park-polisiestasie gekaap en van hulle dienswapens beroof het.
Kol. Robert Netshiunda sê die polisiebeamptes was nie aan diens nie. Die gewapende verdagte het hulle glo in Courtown Crescent in Avoca Hills gekaap en beroof. Onder leiding van die bevelvoerder vir sigbare polisiëring van Greenwood Park het polisiebeamptes van misdaadvoorkoming, Durban-Noord-taakspanbeamptes, Newlands se trio-taakspan en privaat veiligheidsbeamptes inligting opgevolg. Die span is na ‘n huis in Newton A in Inanda waar die verdagte in hegtenis geneem is.
“Hy is in besit gevind van twee vuurwapens met 30 rondtes ammunisie wat aan die twee beamptes behoort. ‘n Verdere soektog in die huis het gelei tot die herwinning van nog twee ongelisensieerde vuurwapens met 12 rondtes ammunisie. Die gekaapte voertuig is ook teruggevind.”
Die verdagte sal Maandag in die Durban-landdroshof verskyn.





