MPUMALANGA. – Sibusiso Sibiya (41), wat vir meer as twee jaar op die vlug was en daarvan beskuldig word dat hy Amanda Khumalo, sy verloofde, gedurende Februarie 2023 vermoor het, het Maandag in die Volksrust-distrikshof verskyn.
Kol. Fundiswa Maphanga, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring Sibiya het glo sy verloofde by hulle huis voor hulle twee kinders met ’n mes aangeval en verskeie kere gesteek. Die kinders kon ontsnap en hulp ontbied.
Sibiya is verlede Vrydag as moordverdagte deur Durban Sentraal-speurders vasgetrek. Daar word vermoed dat hy ná die voorval na die Koninkryk van Eswatini gevlug het, waar hy glo ook by ’n ander moord betrokke kon wees, weereens tydens ‘n romantiese verhouding.
Volksrust-speurders het met die ondersoekwerk volgehou en ‘n wenk ontvang dat Sibiya in Durban opgemerk is. Tydens samewerking tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal se polisiedienste is Sibiya by ’n gastehuis aangekeer, voordat hy na bewering nóg ’n misdaadplan, dié keer glo teen sy eie kinders, sou uitvoer, .
Sibiya bly in aanhouding en sal weer vir sy formele borgtogaansoek op 27 Oktober in die hof verskyn.





