Verdagtes aangehou ná aanval op Ian Cameron en twee DA-kollegas

Lees ook :

Foto: Ashley Rix

WES-KAAP. – Twee tieners, onderskeidelik 16 en 18 jaar oud, is op aanklag van poging tot moord en poging tot kaping in hegtenis geneem nadat Ian Cameron en nog twee DA-parlementslede Dinsdagmiddag in Philippi-Oos aangeval is.

Cameron het ‘n sosialemediaplasing van die voorval gemaak: “Vanmiddag, ná ’n oorsigbesoek by die Philippi-SAPS-opleidingsakademie naby Philippi-Oos, is Nicholas Gotsell, LP, Lisa Schickerling en ekself aangeval. Ons is almal veilig. Nick ontvang behandeling, Lisa het ’n ligte kopbesering opgedoen en ek het ’n paar beserings opgedoen, insluitend steke en tandbeskadiging, maar niks lewensbedreigend nie. Ek wil almal bedank wat boodskappe van ondersteuning gestuur het; dit beteken baie in ’n tyd soos hierdie. Ons opregte dank ook aan SAPD, die Stad Kaapstad se Metropolisie, Metro EMS, CPI en ER24 vir hul vinnige en professionele reaksie.

Dit was ’n ernstige en doelbewuste aanval, en dit beklemtoon die risiko’s wat ons tydens oorsigwerk in die gesig staar. Maar voorvalle soos hierdie sal ons nie afskrik nie. Ons bly vasbeslote om ons verantwoordelikheid na te kom om aanspreeklikheid en veiligheid te verseker. Ons waardeer ook die ondersteuning van kollegas en gemeenskapslede wat saam met ons gestaan het. Vanaand kon ek saam met my familie aandete geniet, en daarvoor is ons innig dankbaar. Dankie Jesus!!!”

Kapt. Frederick van Wyk sê aan Nuusflits twee parlementslede is op die hoek van Eisleben- en Govan Mbeki-rylaan in hulle voertuig deur verdagtes met ‘n klip en ‘n baksteen aangeval. Albei die parlementslede het gesig- en kopbeserings opgedoen.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die 18-jarige het Dinsdagaand mediese hulp by ‘n fasiliteit in Lentegeur gaan soek, waar hy aangekeer is. Daar word geglo hy is tydens die aanval raakgeskiet toe een van die voertuig se insittendes glo ‘n skoot geskiet het. Hy word tans onder polisiebewaking in die hospitaal aangehou. Die 16-jarige verdagte is vanoggend (Woensdag) in Browns Farm aangekeer en aangekla. Potelwa sê aanvanklike verslae dui daarop dat drie mans by die aanval betrokke was. Die ondersoek duur voort en nog ’n arrestasie word verwag.

Volgens ander sosialemediaplasings het Cameron wonde aan sy lip en ken opgedoen, terwyl Gotsell en Schickerling kop- en nek, sowel as rugbeserings opgedoen het. Gotsell moes glo steke vir sy kopbeserings kry. Die drie was van ‘n besoek aan Philippi-polisie-akademie onderweg na die Kaapstad Internasionale Lughawe toe die aanval plaasgevind het.

Bronne: Ian Cameron, SAPD, Ashley Rix, Radio 786

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief