GAUTENG. – Drie verdagtes is Dinsdagaand tydens ‘n skietery met die polisie in Atteridgeville dood, terwyl nog twee verdagtes tydens die voorval gewond is.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die polisie se snelwegpatrollie, saam met privaatveiligheidsmaatskappye, het inligting oor ’n groep verdagtes opgevolg wat glo by kapings in Pretoria betrokke was. Die verdagtes se voertuig is opgemerk en toe die polisie hulle probeer stop, het die groep weggejaag. Dit het tot ’n hoëspoedjaagtog en skietery tussen die polisie en die verdagtes gelei.
Drie van die verdagtes is op die toneel dood, terwyl twee met beserings hospitaal toe geneem is. Die polisie het drie onwettige vuurwapens met ammunisie, seinblokkeerders, handskoene en balaklawas, asook die voertuig, in beslag geneem.
’n Ondersoek na die voorval is aan die gang.





