MPUMALANGA. – Twee verdagtes, onderskeidelik 26 en 39 jaar oud, van wie een vermoedelik ‘n paramedikus is, is Vrydagoggend net nadat die poskantoor in Mangweni glo beroof is, in hegtenis geneem.
Volgens kol. Donald Mdhluli is die twee verdagtes kort na die beweerde sakeroof in Naas met verskeie items, onder andere ‘n vuurwapen en ammunisie, in hulle besit in hegtenis geneem. Mdhluli sê wat nog meer skokkend is, is dat een van die verdagtes glo as ‘n paramedikus werk.
Volgens rapportering het die verdagtes die poskantoorwerkers met ‘n vuurwapen aangehou, vasgebind en kontant geeïs. Die verdagtes het hulleself na bewering aan ‘n onbekende bedrag kontant en sleutels van die poskantoor gehelp en toe in ‘n VW Golf van die toneel gevlug.
‘n Lid van die gemeenskap het die verdagte voertuig opgemerk en die polisie ingelig.
Saam met die vuurwapen en 10 lewendige rondtes ammunisie is ‘n onbekende bedrag kontant wat vermoedelik tydens die sakeroof gesteel is, asook ‘n uniform van ‘n paramedikus, teruggevind.
Mdhluli sê die vuurwapen is na bewering tydens ‘n inbraak in April 2023 in Mayflower as gesteel aangemeld. Die wapen sal ballistiese toetse ondergaan om vas te stel of dit ook moontlik in ander misdade gebruik was.
Die moontlikheid bestaan dat nog klagtes teen die verdagtes bygevoeg kan word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





