KWAZULU-NATAL. – Vier persone, van wie twee polisielede van diens af, is Maandagaand in ‘n kroeg in Ikhwezistraat, Sundumbili, doodgeskiet. Nog vier persone het skietwonde opgedoen.
Kol. Robert Netshiunda sê na bewering het ‘n argument tussen ‘n konstabel en ‘n groep van vyf mans uitgebreek. Die argument is vreedsaam opgeklaar en die konstabel het selfs vir elkeen van die mans ‘n drankie gekoop.
Later het die ander konstabel ‘n argument met dieselfde groep mans buite die kroeg gehad. Hy is geskiet en die kroeg ingehardloop, terwyl hy deur die verdagtes gevolg is, wat net lukraak in die kroeg bly skiet het. Drie persone, onder andere ‘n polisiekonstabel, het op die toneel gesterf. Die tweede konstabel is na ‘n mediese fasiliteit gehaas, waar hy gesterf het. Nog vier persone is na ‘n hospitaal geneem.
Netshiunda sê die kroeg is toegemaak en die drank gekonfiskeer, aangesien dit onwettig handel gedryf het.
Enigiemand met relevante inligting oor die misdaad word gevra om die polisie te kontak.
