NOORD-KAAP. – Drie verdagtes wat glo sigwaarde-dokumente in hulle besit gehad het wat nog gebruik moet word om onder andere tydelike bestuurderslisiensies, bestuurderslisensies en voertuigregistrasiesertifikate te druk, is in Kimberley in hegtenis geneem.
Sers. Merapelo Pilane sê inligting van ‘n verdagte voertuig wat na bewering gesteelde eiendom vervoer, is ontvang. Die provinsiale georganiseerde misdaadondersoek-eenheid en die Kimberley honde-eenheid het die inligting opgevolg en ‘n blou Volkwagen is by die Kimberley-toerismesentrum opgemerk. Drie manspersone het blou sakke uitgelaai. Met deursoeking van die sakke is die sigwaarde-dokumente, asook ‘n drukker en ‘n skandeerder gevind. Die drie verdagtes tussen die ouderdom van 27 en 45 jaar kon nie die besit van die items verduidelik nie en is in hegtenis geneem.
Met verdere ondersoek is gevind die items word na bewering met ‘n inbraak wat op 19 Februarie by Groblershoop-munisipaliteit aangemeld is, verbind.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Kimberley-landdroshof verskyn.





