WES-KAAP. – Darren Stephanus (38) en Ryan Munnik (20) het Woensdag op aanklag van die moord op Piet (Stompie) de Koker (77) van die Strand in die Stellenbosch-landdroshof verskyn. De Koker is op 17 Januarie by sy seun se graf in Onder-Papegaaiberg doodgesteek.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, beweer die staat dat die twee beskuldigdes De Koker aangeval en doodgemaak het, terwyl hy die graf van sy oorlede seun, Werner, besoek het. Die saak is vir borginligting tot 2 Februarie uitgestel. ‘n Borgtogaansoek sal deur die staat teëgestaan word.
Die twee beskuldigdes bly in aanhouding en verdere aanklagte kan moontlik by hul volgende hofverskyning gevoeg word. Hulle het aangedui dat hulle deur Legal Aid verteenwoordig sal word.
Werner het as kleuterseun verdrink en sy pa het die graf sedertdien maandeliks besoek.
Bronne: NVG en South African Researcher – Family History & Heritage, Son Koerant





