Brekende Nuus
Afrikaans

Verdagtes in hof nadat twee liggame in put aangetref is

Foto: SAPD
Foto: SAPD

NOORD-KAAP. – Ses verdagtes is deur Roodepan-polisiebeamptes in hegtenis geneem en het op aanklag van moord in die hof verskyn. Twee mans, wat van veediefstal beskuldig is, se liggame is op 7 Julie in ‘n put naby die Midlands-watersuiweringstasie in Roodepan, Kimberley, gekry. ‘n Geregtelike doodsondersoek is na moord verander.

Sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder, sê weens die gevorderde stadium van ontbinding van die liggame kon die identiteit en geslag van die oorledenes nie onmiddellik vasgestel word nie. Volgens voorlopige ondersoeke het ’n groep buitelanders, glo werksaam as skaapwagters in die Lethabo Park- gemeenskaplike landbougebied naby Roodepan, die twee oorledenes oor die Paasnaweek in April van veediefstal beskuldig. Hulle is glo doodgeslaan en hul liggame in die put gegooi.

Die ses verdagtes staan op aanklagte van moord tereg en het gister in die Kimberley-landdroshof voorgekom. Die polisie se ondersoek duur voort.