WES-KAAP. – Vier verdagtes is Dinsdagaand omstreeks 22:45 gearresteer nadat hulle vir die polisie weggejaag en 1 943 se Mandrax-tablette en nog 27 wat halveer is, glo in hulle besit gevind is.
Sers. Christopher Spies sê die dwelmmiddels, met ‘n geskatte straatwaarde van R97 000, is saam met ‘n onbekende bedrag geld deur die polisie gekonfiskeer. Oudtshoorn-polisielede was in Johan Gelderblomstraat met patrollie besig toe ‘n voertuig met insittendes skielik wegjaag.
‘n Jaagtog het gevolg en polisielede het opgemerk hoe ‘n pakkie by die bewegende voertuig se venster uitgegooi word. Die voertuig is tot stilstand gebring, waarna Mandrax in die pakkie gevind het. Vier verdagtes, vermoedelik van George, is gearresteer.
Die verdagtes sal op ‘n aanklag van dwelmhandel in die Oudtshoorn-landdroshof voorkom.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





