GAUTENG. – Vier verdagtes in ‘n wit Ford Ranger is vanoggend (Woensdag) net na 07:00 deur die polisie in Silverton voorgekeer. Na deursoeking is die verdagtes op verskeie aanklagte gearresteer.
Kapt. Johan van Dyk sê die verdagtes in die dubbelkajuitbakkie wat in Petroleumstraat in Waltloo gery het, het vreemd opgetree, waarna polisielede met radionavraag gevind het die bakkie het nie ‘n geregistreerde eienaar nie. Die bakkie is voorgekeer en takties benader, waarna die insittendes beveel is om uit te klim en op die grond te lê. Tydens die deursoeking is daar ‘n Glock-pistool met ammunisie, versteek onder die agtersitplekk, ‘n swart sak met twee slypmasjiene, ‘n boutsnyer en ‘n groot skroewedraaier in die bakkie gevind.
Van Dyk sê voorlopige ondersoek dui aan die vuurwapen is by Sinoville-polisie as gesteel aangemeld. Die verdagtes is gearresteer en vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook die besit van inbraakimplemente, aangekla.
‘n Ondersoek, om vas te stel of die verdagtes aan ander kriminele aktiwiteite verbind kan word, duur voort. Die vuurwapen sal ook ballistiese toetsing ondergaan.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com