LIMPOPO. – Die Limpopo-polisie het ’n intensiewe soektog na verdagtes van stapel gestuur wat vir die onwettige jag van ’n olifant en die daaropvolgende vergiftiging van aasvoëls in die Krugerwildtuin verantwoordelik is.
Kol. Malesela Ledwaba sê Phalaborwa-polisie het op 8 Mei ‘n verslag ontvang van ’n olifantkarkas wat in die Mushiyani-blok in die Mahlangeni-gebied van die Krugerwildtuin gevind is. Aanvanklike ondersoek het getoon dat stropers ’n kabelstrik gebruik het om die olifant te vang. Die karkas is daarna met gif besmeer. Dit het ernstige gevolge gehad toe aasvoëls van die besmette karkas geëet het.
Altesaam 123 aasvoëls is dood en nog 86 vergiftigde aasvoëls is gered en vir behandeling na ’n rehabilitasiesentrum op Hoedspruit geneem. Een van die voëls in die rehabilitasiesentrum het die volgende dag gevrek, wat die aantal dooie voëls op 124 te staan bring. Die oorblywende 85 ontvang steeds mediese sorg. Beide die olifant se slagtande was nog op die karkas, wat daarop dui dat die stropers moontlik gesteur is voordat hulle dit kon verwyder.
Lt.genl. Themi Hadebe, die provinsiale kommissaris van polisie in Limpopo, het die voorval skerp veroordeel. “’n Toegewyde span is saamgestel om hierdie oortreders op te spoor en voor die gereg te bring. Hierdie tipe omgewingsmisdaad bedreig ons natuurlike erfenis en sal nie geduld word nie,” sê Hadebe.
South African National Parks sê ‘n alarm het op 6 Mei verdagte aktiwiteite in ‘n verlate deel van die park aangedui, waarna die misdaad ontdek is.
Nuusflits het voorheen berig:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





