KWAZULU-NATAL. – Drie verdagtes het Maandag hul voertuig in Tongaat gerol nadat hulle glo ‘n gekloonde bankkaart by ‘n vulstasie probeer gebruik, toe gevul en daarna probeer het om ‘n reaksiebeampte van die pad af te ry.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê na die verdagtes het na bewering die gekloonde kaart in Shakaskraal vir betaling aangebied. Toe daar pobeer is om hulle te keer, het hulle in ’n blou Toyota Avanza gevlug. Die eienaar van die onderneming het hulle op die R102 agternagesit. Rusa is vir hulp gekontak toe die voertuig teen ‘n hoë spoed in die rigting van Mt. Edgecombe gery het. Reaksiebeamptes wat in Umhlanga op patrollie was, is omstreeks 20:30 van die verdagte voertuig op die N2 in kennis gestel.
Om inhegtenisneming te vermy, het die verdagte glo deur die geslote Tongaat-tolhek gery en daarna op die Watson-hoofweg afgedraai.
Reaksiebeamptes van Tongaat en Ballito het die voertuig opgemerk en het hulp verleen. ’n Beampte wat in die teenoorgestelde rigting gery het, het gesien dat die verdagte voertuig, gevolg deur die eienaar van die vulstasie, teen ‘n hoë spoed aangery gekom het. In ‘n klaarblyklike poging om die reaksiebeampte van die pad af te dwing, het die verdagte na die aankomende baan beweeg. Die beampte het uitgeswaai, waarna die verdagte beheer oor die voertuig verloor en teen ’n boom gebots het. Die voertuig het ná impak gerol en die drie verdagtes is vasgekeer gelaat.
Volgens Rusa het die verdagtes matige tot ernstige beserings opgedoen. Ethekwini Brand- en Reddingsdienste is ontbied om hulle uit die voertuig te bevry. Die mans word vermoedelik verbind met ’n sindikaat wat spesialiseer in die gebruik van gekloonde bankkaarte en kan moontlik met verskeie bedrogsake verbind word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





