NOORD-WES. – Hannetjie van Zyl (55) se vermeende moordenaars, 32 en 33 jaar oud, is in hegtenis geneem. Van Zyl is Maandagaand op Doornpan-plaas buite Ottosdal beseer, nadat sy glo aangeval is toe sy die plaashek na die plaas wou oopmaak. Haar man het haar ná die voorval na ’n hospitaal in Klerksdorp vervoer, waar sy later aan haar beserings beswyk het.
AO Kelebogile Morake, polisiewoordvoerder, sê die polisie het aanvanklik gereageer op ’n klagte van ’n moontlike plaasaanval. Die twee verdagtes is ná hul identifikasie deur ’n getuie in hegtenis geneem. ’n Derde verdagte is steeds op vrye voet. Die twee mans sal na verwagting vandag (Donderdag) op aanklagte van moord in die Ottosdal-landdroshof verskyn.
Lt.genl. Arthur Peter Adams, provinsiale kommissaris van die Noordwes, het die voorval veroordeel en die ondersoekspan geloof vir die vinnige inhegtenisnemings. Die omstandighede van die moord word steeds ondersoek.