VRYSTAAT. – Vier verdagtes is in Heidedal, Bloemfontein, in hegtenis geneem ná ’n gewelddadige voorval op polisiebeamptes tydens ’n teen-bende-operasie in Joe Slovo op 16 Junie. Eers is daar probeer om hulle met honde aan te val, waarna hulle met klippe gegooi is.
Brig. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê beamptes van die teen-bende-eenheid het ‘n deursoekingslasbrief by ’n huis uitgevoer. Volgens haar het die huiseienaar glo twee polisiebeamptes met honde probeer aanval toe hulle toegang tot die huis wou verkry, maar hulle het ongedeerd daarvan afgekom.
Tydens die deursoeking is daar op ‘n groot hoeveelheid kristalmetamfetamien en ’n onbekende bedrag kontant afgekom en beamptes het daarop beslag gelê. Die situasie het verder versleg toe ’n groep mense buite die woonplek klippe na die beamptes begin gooi het, wat skade aan staatsvoertuie veroorsaak het. Versterkings is ontbied, maar hulle voertuie is ook beskadig. Om die situasie te beheer en die span veilig te onttrek, is skokgranate en rubberkoeëls gebruik om die skare uitmekaar te jaag.
Vier verdagtes is uiteindelik in hegtenis geneem. Twee van hulle, insluitend die huiseienaar en ’n 20-jarige man, word van dwelmhandel aangekla. Die huiseienaar word ook deur aanklagte van aanranding in die gesig gestaar. Nog twee mans van 26 en 51 is in hegtenis geneem vir kwaadwillige saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer.





