VRYSTAAT. – Vier verdagtes is Maandag in ‘n huis in Bayswater in Bloemfontein op aanklagte van mensehandel, onwettige besit van dwelms, onwettige besit van ‘n weermaguniform, asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie gearresteer.
Lt.kol. Zweli Mohobeleli, woordvoerder van die Valke, sê die verdagtes tussen 20 en 40 jaar oud, sal in die Bloemfontein-landdroshof verskyn. Lede van die ernstige georganiseerde misdaadondersoeke (Soci) het inligting oor beweerde mensehandel ontvang. Na bewering is ‘n vroulike slagoffer (39) deur nog ‘n vrou, met belofte van ‘n beter lewe, gelok. By die betrokke huis is die vrou wat glo die lokwerk gedoen het, betaal. Die slagoffer is glo dwelms gegee en gedwing om aan seksuele aktiwiteite deel te neem en die huis skoon te maak.
Mohobeleli sê Maandag is ‘n gesamentlike polisie-operasie geloods waartydens daar op twee huise toegeslaan is. Vier verdagtes is gearresteer. Beslag is gelê op dwelms, ‘n militêre uniform, selfone, ‘n bankkaart-skandeerder, twee vuurwapens en ammunisie.





