KWADUKUZA. – Twee verdagtes, tussen 21 en 24 jaar, is Sondag vir beweerde huisroof in hegtenis geneem. Die twee het vantevore die slagoffer help verhuis.
Kapt. Alex Thomson sê die twee verdagtes is positief deur die slagoffer en drie getuies uitgeken. Die verdagtes het na bewering Saterdag aan die huis se deur geklop, dit oopforseer en die slagoffer en haar gaste van selfone, kontant en bankkaarte beroof. Die slagoffer ken die verdagtes nadat hulle haar gehelp het om haar besittings in haar nuwe huis in te trek.
Thomson sê speurders, misdaadvoorkoming en E2 Partners het onverpoos gewerk om die verdagtes by hulle huise in Thembeni op te spoor en hulle in hegtenis te neem.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort op ‘n aanklag van huisroof in die KwaDukuza-landdroshof verskyn.





