LIMPOPO. – Ntsako Mathebula (18) en Tiza Mamatlepa (24) het Dinsdag vlugtig in die Kgapane-landdroshof verskyn nadat vrouestudente op 22 Februarie by ‘n kampusblyplek beroof en verkrag is. Die saak is vir borgaansoek tot 1 April uitgestel.
Brig. Hlulani Mashaba sê Mathebula staan op vier aanklagte van verkragting en huisroof en Mamatlepa op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom tereg.
Op die betrokke aand is agt vrouestudente omstreeks 23:00 met ‘n vuurwapen aangehou en vier is verkrag. Die verdagte het glo ook die slagoffers van waardevolle items beroof, voordat daar te voet gevlug is.
Mashaba sê die twee verdagtes is apart op 11 Maart gearresteer, waartydens besittings van die slagoffers teruggevind is.
Die ondersoek duur voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com.