NOORDWES. – Altesaam nege verdagtes van ‘n beweerde sindikaat wat van 27 klagtes van roof, bedrog en ontvoering deur Facebook-verkope beskuldig word, is Maandagaand in hegtenis geneem.
Brig. Sabata Mokgwabone sê die verdagtes, tussen 24 en 61 jaar, is tydens die afhandeling van Projek Robocop wat in 2021 geregistreer is, vasgetrek.
Mokgwabone sê die projek is begin toe klaers van verskeie provinsies klagtes ingedien het oor ‘n beweerde sindikaat wat in Klerksdorp, Womaransstad, Schweizer-Reneke en Huhudi opereer. Die verdagtes het na bewering ‘n Toyota Quantum op Facebook te koop aangebied. Afsprake is met voornemende kopers gemaak en kontant is as betalingsvereiste gestel. Lede van die sindikaat sou dan verskyn en die niksvermoedende kopers van kontant en waardevolle items besteel. In sommige gevalle is elektroniese kontantbedrae gemaak. Die verdagtes het dan glo met die geld en die voertuig verdwyn.
Tydens ‘n geheime ondersoek is bewysstukke bymekaargemaak en 27 dossiere wat aan die verdagtes gekoppel is, is geregistreer.
Die verdagtes verskyn vandag in die Vryburg-landdroshof.





