OOS-KAAP – Vier kinders tussen die ouderdom van 3 en 11 is dood nadat hulle Sondagmiddag ’n giftige stof op ’n stortingsterrein in NU30, Motherwell, Port Elizabeth, geëet het. ’n Sewejarige het die voorval oorleef.
Dit volg nadat die Motherwell-gesondheidsentrum in die NU4B die polisie net ná 18:00 Sondag in kennis gestel het van kinders wat sterf weens vergiftiging.
Vier kinders oorlede
Die 3-jarige seun is met sy aankoms by die gesondheidsentrum oorlede. Sy 10-jarige suster en nog ’n 5-jarige seun en sy 11-jarige suster is almal tydens behandeling by die gesondheidsentrum dood.
7-jarige oorleef
Nog ’n 7-jarige seun is later die middag met soortgelyke simptome na die gesondheidsentrum gebring en het met behandeling oorleef.
Maj. Genl. Dawie Rabie, polisiewoordvoerder, sê: “Al die kinders het na bewering naby hul huise gespeel en iets geëet wat hulle tussen die vuilgoed by die stortingsterrein gevind het.”
’n Formele ondersoek is ingestel en enige persoon met inligting wat die polisie met die ondersoek kan help, kan kontak maak met die Motherwell-polisiestasie of 08600 10111 skakel.
’n Streng waarskuwing is ook aan die gemeenskap in die omgewing gegee om niks wat op die stortterreine gegooi is, te eet nie.