WES-KAAP. – Siyabonga Mbotyi se verhoor op die aanklagte van moord en lykskending van Nandipha Mthimkulu op 25 Oktober 2019 by hulle hut in Lwandle begin môre in die hooggeregshof. Hy het haar glo verwurg en daarna met ‘n gebreekte bottel ‘n gedeelte van haar voorkop en geslagsdeel afgesny en op die dak gegooi voor hy gevlug het.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, sê die beskuldigde en die oorledene was in ‘n verhouding en het ten tyde van die misdaad ‘n baba van een maand gehad. Toe hy van die toneel vlug, het hy glo die baba by haar ma se liggaam agtergelaat.
Op die betrokke aand het die beskuldigde na bewering tuis gekom en die oorledene, wat deur sy twee susters besoek was, het glo nog nie vir hom kos voorberei nie. Nadat die susters gegaan het, het hy haar glo tydens ‘n rusie verwurg. Haar liggaam is daarna geskend.
Die bure het die argument en baba se huil deur die nag gehoor, waarna die oorledene se liggaam die volgende oggend ontdek is. Die beskuldigde is dieselfde dag in hegtenis geneem en het ‘n bekentenis afgelê.
Ntabazalila sê die nadoodse ondersoek het bevind die oorsaak van die oorledene se dood is “versmoring as gevolg van drukking om die nek”
Die staat beweer Mbotyi is skuldig aan moord en lykskending en dat die moord beplan of met voorbedagte rade gepleeg is.





