LIMPOPO. – Die polisie ondersoek twee afsonderlike voorvalle van verkragtings oor die naweek. ‘n Verstandelik gestremde tienermeisie (17) is Saterdagmiddag en ‘n ses maande swanger vrou (21) Sondagoggend verkrag.
Kol. Malesela Ledwaba sê beide die sake word deur Thohoyandou-GKS ondersoek. ‘n Onbekende verdagte is Saterdag omstreeks 17:00 op heterdaad deur die gemeenskap betrap toe hy die tienermeisie in bosse in die Lunungwi-woonbuurt verkrag het. Hy het van die toneel gevlug.
Die ses maande swanger vrou is Sondagoggend omstreeks 04:30 in die Dididi-woonbuurt deur haar gewese kêrel verkrag. Hulle was saam by ‘n kroeg toe die beweerde verdagte ander klere wou aantrek en die slagoffer saam na sy huis toe genooi is. Met aankoms het hy haar met ‘n mes gedreig en verkrag. Hy het ook van die toneel gevlug.
Enigiemand met inligting word gevra om sers. Eliah Mabaso by 082 351 5219 te bel.





