GAUTENG. – Twee mans wat daarvan verdink word dat hulle by blouligrowe betrokke was, is Sondag dood in ’n skietery met die polisie in Parys in die Vrystaat. Ná die skietery is die twee verdagtes, geklee in polisie-uniforms, dood in ‘n voertuig aangetref.
Luidens ‘n verklaring van kol. Dimakatso Nevhuhulwi het ’n gesamentlike span van verskeie Gautengse polisie-eenhede, saam met privaat veiligheidsmaatskappye, inligting ontvang oor ‘n VW Golf 7 wat na bewering vir blouligrowe gebruik is. Die voertuig is op die R59 opgemerk met blou ligte daarop aangebring. Toe die polisie die voertuig wou aftrek, het die insittendes weggejaag, wat tot ’n hoëspoedagtervolging en ’n skietery gelei het. Die voertuig het later beheer verloor en teen ’n heining in die omgewing van Parys gebots. Twee verdagtes, in polisie-uniforms, is dood in die voertuig aangetref.
Tydens die ondersoek op die toneel is op twee ongelisensieerde vuurwapens met ammunisie, SAPD-uniforms met kentekens, blou ligte, sirenes en vals registrasienommers afgekom. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die verdagtes moontlik betrokke was by blouligrowe op die R59 en ander paaie tussen Gauteng en die Vrystaat.





