GAUTENG. – Vier vermeende huisrowers, wat glo verantwoordelik is vir huisrowe en inbrake in en om Johannesburg, is Saterdag deur die Gauteng-hoofwegpatrollie en privaat veiligheidsmaatskappye in Randburg gearresteer.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê ‘n intelligensiegedrewe operasie is uitgevoer. Die verdagtes is strategies ingewag en opgemerk waar hulle ‘n woongebied in die rigting van die N1 verlaat. Die voertuig is gestop en nadat inbraakgereedskap in die voertuig gevind is en dit boonop met vals registrasieplate toegerus is, is die verdagtes in hegtenis geneem.
Met verdere ondersoek is gevind die voertuig is in Mei 2024 in Edenvale as gesteel aangemeld.
Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Randburg-landdroshof verskyn.





