KWAZULU-NATAL. – Drie vermeende huurmoordenaars is Donderdagmiddag tydens ‘n skietery met die polisie op Eshowe dood.
Kol. Robert Netshiunda sê die provinsiale stabiliseringspan het ‘n wenk ontvang oor verdagtes met vuurwapens wat na bewering onderweg was om ‘n sluipmoord uit te voer. Naby King Dinizulu het die lede die verdagtes opgemerk en aangedui die voertuig moet stop. ‘n Hoëspoedjaagtog het eers ontstaan, waarna die verdagtes die voertuig tot stilstand gebring en uitgespring het. Skote is op die polisie geskiet, wat takties reageer het en drie verdagtes noodlottig gewond het.
‘n Polisielid is tydens die skietery beseer.
Netshiunda sê twee vuurwapens waarvan een se reeksnommer afgevyl is, asook verskeie rondtes ammunisie is in die oorledenes se besit gevind en gekonfiskeer. ‘n Handgranaat en ammunisie vir ‘n geweer is in die verdagte voertuig gevind.
Twee van die verdagtes is glo nie onbekend aan die polisie nie en is na bewering geïdentifiseer met vermoedelike betrokkenheid by verskeie taxiverwante moorde en sake van poging tot moord in die King Cetshwayo-distrik.





