WES-KAAP. – Die saak van Daniel Hugo Smit is Maandagoggend in die rondgaande hof op Vredendal tot 21 Oktober uitgestel.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die saak is uitgestel sodat die staat Smit se pleit in terme van die strafproseswet kan oorweeg.
Smit staan op aanklagte van moord, poging tot moord, ontvoering, lykskending, regsverydeling en roekelose en/ of nalatige bestuur tereg nadat die geskende oorskot van Jerobejin van Wyk in ‘n drein op Smit se werf gevind is..
Na bewering het Smit op 2 Februarie 2022 op Klawer vir Jerobejin van Wyk (13) met ‘n Ford Bantam-bakkie raakgery. Die tienerseun is daarna deur Smit in sy bakkie na 2de Laan 19 geneem. Jerobejin van Wyk is na bewering vermoor, waarna sy liggaam geskend, opgesny, gebrand en daarvan ontslae geraak is.
Smit is op 3 Februarie op ‘n aanvanklike aanklag van ontvoering gearresteer. Toe hy op 7 Februarie in die hof voorkom, is verskeie aanklagte bygevoeg.
Smit het egter aan die polisie vertel hy het die oorledene by sy huis kos gegee, waarna hy glo verdwyn het. Die tienerseun se menslike oorskot is later deur die polisie in ‘n drein op Smit se erf gevind. DNS-toetse het die oorskot aan dié van die seun verbind.
Smit was intussen vir waarneming na die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal en is geskik verklaar om verhoor te word.





