KWAZULU-NATAL. – Een van drie verdagtes wat glo ‘n Pakistanse-sakeman ontvoer het, is Saterdagnag deur die polisie doodgeskiet. Beamptes is nou op die hakke van die ander twee verdagtes..
Kol. Robert Netshiunda, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die sakeman is op 6 Mei op Hluhluwe ontvoer. Sy ontvoerders het ‘n losprays van R200 000 geëis, waarna R90 000 die volgende dag betaal, met die belofte dat die res later sou volg. Die uitstaande bedrag het uiteindelik tot die verdagtes se ondergang gelei. Die Empangeni Taktiese Reaksiespanne het ‘n lokval op die N2 gestel met ‘n aflewering van die res van die geld wat gedoen sou word. Toe die drie verdagtes in hul bakkie opdaag om die pakkie op te tel, was die polisie gereed vir hulle. ‘n Skietery het uitgebreek, waartydens een vermeende ontvoerder dood is, ‘n tweede het in die omliggende bosse in die duisternis verdwyn en ‘n derde het weggejaag, net om sy bakkie kort daarna verlate op die N2-aansluiting te los.
‘n Vuurwapen waarvan die reeksnommer verwyder is, is by die oorledene gevind. Die soektog na die twee voortvlugtiges duur voort.





