LIMPOPO. – ’n Vermeende renosterstroper is tydens ’n teenstropingsoperasie op ‘n plaas in die Pienaarsrivier-gebied, in die Waterberge, deur polisiebeamptes doodgeskiet. Hommeltuie het drie vars witrenosterkarkasse op die plaas opgespoor. Twee van die diere is onthoorn, terwyl een nog sy horing gehad het.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê volgens inligting het lede van die teenstropery-eenheid Vrydagaand patrolliedienste verrig toe hulle skote gehoor en dadelik ondersoek ingestel het. Hommeltuie is gebruik om die gebied te monitor en die verdagtes op te spoor. Die verdagtes het in die bosse ingevlug. Een was glo gewapen en het op die polisie en hommeltuig geskiet. Beamptes het uit selfverdediging teruggeskiet, en die vermeende renosterstroper noodlottig gewond. ‘n Vuurwapen is langs sy liggaam gevind, maar geen bewys van identifikasie nie.
Naby die karkasse wat met die hommeltuie opgespoor is was daar ook ’n mes en messkedes gevind. Die polisie ondersoek sake van renosterstropery, poging tot moord en moord.
’n Soektog na die oorblywende verdagtes is steeds aan die gang. Enigiemand met inligting in die saak kan AO Hendrik Kruger by 061707 5713 bel.





