Waarskuwing! Foto’s kan sensitiewe lesers ontstel.
KWAZULU-NATAL. – Die liggaam van ‘n vermeende rower wat doodgeslaan is, is Dinsdag in bosse in Trenance Park gekry.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê ‘n verbyganger het die operasionele sentrum omstreeks 10:45 vir hulp gebel toe die liggaam ontdek is. Reaksiebeamptes en paramedici het ongeveer 500 m met ‘n voetpad gestap na waar die liggaam uitgewys is. Die oorledene se hande was vasgebind en hy het slaanmerke van ‘n sweep oor sy lyf gehad. ‘n Blou Adidas-baadjie wat aan ‘n boom vas was, was vermoedelik om die oorledene se nek om hom regop teen die boom te hou terwyl hy geslaan is.
Reaksiebeamptes is deur persone wat die oorledene geken het, meegedeel hy was van verskeie rooftogte in Zwelisha beskuldig. Die oorledene het glo vir hulle gesê die gemeenskap soek hom en hy moet trek. Dit kon egter nie deur Rusa bevestig word nie.
Rusa sê die moord word ondersoek.
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.

