MPUMALANGA. – Twee vermeende rowers is Saterdagaand voor middernag tydens ‘n beweerde roof deur ‘n gewapende ryloper, vir wie hulle ‘n geleentheid gegee het, doodgeskiet.
Brig. Donald Mdhluli sê die oorledenes en nog verdagtes in ‘n Hyundai Tuscon-sportnutsvoertuig het glo die ryloper ‘n rygeleentheid aangebied. Tydens die rit wou hulle hom glo met ‘n mes beroof, maar was nie bewus daarvan dat hy ‘n vuurwapen by hom gehad het nie. Hy het twee vermeende rowers doodgeskiet en twee het gevlug.
Na bewering het die oorledenes geweier om die ryloper by sy bestemming af te laai en het hom met die mes aangehou en van sy selfoon en ander besittings beroof. Die ryloper moes glo ook sy bankkaart en PIN-nommer verskaf of gevaar loop om sy lewe te verloor. Een van die verdagtes het geld by ‘n OTM naby ‘n vulstasie probeer onttrek. Kort daarna het die ryloper glo ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en die bestuurder van die Tuscon en ‘n passasier geskiet. Twee ander verdagtes het weggehardloop.
Mdhluli sê die ryloper is dadelik na ‘n vulstasie om hulp te ontbied. Die polisie is ontbied en veiligheidswagte het dadelik hulp gebied.
‘n Verdagte is op die toneel gearresteer nadat hy eers weggehardloop het en weer na die toneel teruggekeer het. Hy is glo ‘n Zimbabwiese burger en die eienaar van die voertuig. Hy is vir roof aangekla en sal na verwagting binnekort in die Middelburg-landdroshof voorkom. Binnelandse sake sal ook sy status om in die land te wees, vasstel.
Terwyl die twee oorledenes nog geïdentifiseer moet word, soek die polisie na die twee voortvlugtendes en ondersoek die skietery.
Maj.genl. Zeph Mkhwanazi waarsku individue sowel as motoriste vir hulle eie veiligheid teen die gevare van ryloop en raai dit ten sterkste af.





