Vermeende verdagte van sindikaat borg geweier na kinderpornografie-aanklagte

Lees ook :

Foto: NVG

WES-KAAP. – Shannon Angelo Manuel (32), vermoedelik deel van ‘n internasionale sindikaat, se aansoek om borg is in die Mitchells Plain-landdroshof geweier. Hy het op aanklagte van kindervoorbereiding, asook die onwettige besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie verskyn.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die hof het sy borg geweier omdat sy eie twee kinders ook teen hom beskerm moet word.

Manuel is op 19 Januarie deur die polisie in hegtenis geneem nadat inligting van binnelandse veiligheid (Homeland Security) van die VSA ontvang is dat hy glo deel van die internasionale sindikaat is. Die verdagte is geïdentifiseer deurdat hy na bewering van sosialemediaplatforms gebruik gemaak het om sy foto’s en video’s van kinderpornografie aan te vul. In Manuel se besit was glo 115 000 foto’s en 20 000 video’s van kinderpornografie gekry wat hy na bewering tussen 12 April 2021 en 19 Januarie 2024 bekom het.

“Daar was meer as 300 000 kletsgroepe op die sosialemediagroep waarvan 35 groot groepe aktief kinderpornografie vervaardig en versprei het. Uit die operasie is 27 teikens in die land geïdentifiseer en vier teikens in die Wes-Kaap is almal in hegtenis geneem en het in howe verskyn.”

Mauel het tydens borg aangedui hy is ‘n enigste broodwinner wat vir sy vrou, twee minderjarige kinders, pa en suster sorg. Hy het gesê hy sal in die omstandighede van Pollsmoor-gevangenis liggaamlik agteruitgaan en vrees om sy werk te verloor. Die hof het sy aansoek geweier en het die saak tot 27 Junie uitgestel sodat verdere ondersoek kan plaasvind.

Adv. Evadne Kortje, SSA, sê voorlopige forensiese analisering dui aan Manuel het van ‘n versamelaar na ‘n kinderpornografie-vervaardiger verander. Hy het van uitvissing (phishing) gebruik gemaak om twee minderjarige slagoffers, 12 en 14 jaar, in die Goodwood- en Milnerton-area te bekom. Twee ander slagoffers is nog onbekend.

Manuel het iemand anders se foto gebruik om vriende met die kinders te maak. Hy sou inligting van hul adresse, die uitleg van hulle huise, veiligheidsisteme, familielede en inligting van jonger familielede bekom. Die kinders is gevra om foto’s en video’s van hul privaat dele vir hom te stuur. Wanneer die kinders iets agterkom, is hulle afgepers met die plasing van die foto’s en video’s op sosiale media. Uit vrees is daar aan sy eise voldoen.

“Die slagoffers was so oortuig deur sy leuens dat hulle tot ‘n mate gevoel het hulle was in ‘n verhouding met hom. Hy was hul kêrel.”

“Adv. Kortje het aangevoer dat die beskuldigde aangekla word van misdrywe wat verband hou met geslagsgebaseerde geweld. Die misbruik van die internet om die mees kwesbares van die samelewing uit te buit, kan nie onderskat word nie. Hy het voordeel getrek uit, deelgeneem aan en bygedra tot die massiewe seksuele uitbuiting van kinders regoor die wêreld. Die vernedering, misbruik van vertroue en skending van die jong, onskuldige slagoffers is skokkend, immoreel en ondraaglik. Weens die aard van sy oortredings sal meer slagoffers en getuies geïdentifiseer word ná die volledige forensiese ontleding van die getuienis vanaf die aansoeker se selfoon.”

Landdros ZT Varoyi het gesê die slagoffers wonder wat van hulle “kêrel” geword het. Hulle ken hom nie, maar hy weet alles van hulle. Verklarings van die geïdentifiseerde slagoffers is nog uitstaande. Hulle sal eers vir berading geneem word en hulle families ingelig word van wat gebeur het omdat selfs hulle ook nog onkundig daaroor is.

Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging, het die uitkoms van die borgaansoeke van sake teen Garth van West (Worcester-landdroshof), Corné van Rooyen (Bluedowns-landdroshof), Kayden Elliot (Mosselbaai-landdroshof) en Shannon Manuel (Mitchells Plain-landdroshof) verwelkom. Dit dui op die staat se zero-verdragsaamheid teenoor die misdade wat hulle gepleeg het.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief