MPUMALANGA. – Die liggaam van Ernst Rachmann (74), die vermiste boer van Leslie naby Leandra, is Vrydagoggend naby die N17 deur beeswagters gevind. Rachmann kon nie op sy verjaardag op 27 Oktober op die plaas waar hy gebore is, in die hande gekry word nie.
Kapt. Magonseni Nkosi sê: “Owerhede is deur beeswagters, ná ‘n reuk uit ‘n mangat, ingelig.”
Rachmann was nog Saterdag op plaas Watervalsbank. Verskeie oproepe is vir sy verjaardag na hom toe gemaak, maar hy kon nie in die hande gekry word nie en ondersoek is ingestel. Die deur is oop gevind, maar Rachmann se waardevolle items, insluitend sy voertuig en selfoon, was onaangeraak. Soektogte het tot Vrydag geen sukses opgelewer nie.
“Volgens inligting is ‘n handwapen met vyf lewendige rondtes ammunisie en ‘n leë patroondop ook gevind. Omstandighede rondom sy geheimsinnige dood is onderhewig aan ondersoek.”
Christo Rachmann, Ernst se seun, het voorheen aan Nuusflits gesê hulle hoop is op die polisie om sy pa op te spoor. Ds. Christo Jooste het voorts gesê ‘n grootskaalse soektog is geloods en die plaas is uit die lug en op die grond gefynkam. Jooste vra voorbidding vir die familie in die onseker tyd.





