OOS-KAAP. – Die polisie het met groot hartseer bevestig dat Floppy, polisiepatrolliehond, wat verlede week as vermis aangemeld is, dood aangetref is.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê verskeie soek-en-reddingspanne is Maandagoggend ontplooi om die digte bosse in NU-16, Mdantsane, te fynkam. Floppy is omstreeks 13:00 dood gekry, met skietwonde.
Die verdagtes is steeds op vrye voet en die polisie doen ’n dringende beroep op die publiek om enige inligting wat tot hul inhegtenisneming kan lei, te deel.
Floppy se dood volg ná ’n gewapende roof by Laerskool Nzuzo in Zwelitsha Vrydagoggend. Tydens ‘n polisie-operasie met Floppy was die polisiehond vermis en drie gewapende verdagtes steeds op vrye voet. Die verdagtes het 20 skootrekenaars en 15 selfone van die skool gebuit en met die skoolhoof se swart Peugeot van die toneel gevlug. Nadat die verdagtes met die gesteelde voertuig opgespoor is, het hulle die digte bosse ingehardloop. Sers. Don het vir Floppy losgemaak om die verdagtes te volg, waarna ‘n geskree en skote gehoor is. Floppy is sedertdien gesoek.





