
Foto: SAPD
VRYSTAAT. – Philip Mashudu (55) en Elsie Matlou Mashudu (54) het op 23 Augustus onderweg van Betlehem na Parys vermis geraak. Hulle is Maandagaand in Everton, in Gauteng, opgespoor.
Brig. Motantsi Makhele sê ‘n provinsiale taakspan het sedert die egpaar se verdwying onverpoos gewerk om alle leidrade op te volg. Die egpaar se voertuig is Sondag in Sebokeng opgespoor. ‘n Deurbraak is Maandagaand gemaak toe drie verdagtes in Sharpeville gearrester is. Verdere ondersoek het die taakspan na ‘n vierde verdagte by ‘n huis in Everton gelei. Die egpaar is ongeskaad by dieselfde huis aangetref.
“Die polisie het op verskeie bankkaarte, ‘n aansienlike bedrag geld en ‘n speelgoedgeweer by die adres beslag gelê.”
Makhele sê die voorlopige ondersoek dui aan die egpaar is op die pad tussen Heilbron en Sasolburg gekaap en ontvoer. Die ondersoek duur voort en meer arrestasies word verwag.
Die verdagtes sal Donderdag op aanklagte van kaping en ontvoering in die Sasolburg-landdroshof voorkom.





