
Foto: SAPD
MPUMALANGA. – ‘n Vermoedelike Libiese militêre opleidingsbasis is deur die polisie in Witrivier ontbloot. Altesaam 95 Libiese buitelandse burgers met ‘n beweerde verbinding tot die basis is gearresteer.
Kol. Donald Mdhluli sê verskeie rolspelers, insluitend misdaadintelligensie en die departement van binnelandse sake, het die basis ontbloot.
Inligting van die vermeende kamp is ontvang, waarna ‘n operasie vanoggend uitgevoer is.
“Die plek, wat aanvanklik as ‘n opleidingsterrein aangewys is, is blykbaar in ‘n onwettige militêre opleidingsbasis omskep.”
Mdhluli sê altesaam 95 Libiese burgers word tans deur relevante owerhede ondervra.
Genl.maj. (dr.) Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale kommissaris van die provinsie, sê: “Ons neem enige bedreiging vir die veiligheid en stabiliteit van ons provinsie en land baie ernstig op. Hierdie operasie demonstreer ons verbintenis om vinnig en beslissend op te tree teen enige aktiwiteite wat ons nasionale belange kan ondermyn en die veiligheid van ons burgers kan verseker, want dit is ons primêre mandaat.”
Die ondersoek duur voort en verdere besonderhede sal soos dit beskikbaar word, verskaf word.
“Die SAPD wil graag die publiek verseker dat daar geen onmiddellike bedreiging vir gemeenskapsveiligheid is nie.”
Enigiemand met inligting oor soortgelyke of verwante aktiwiteite word gevra om die polisie te kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Foto: SAPD





