OOS-KAAP. – ‘n Verdagte (27) is in hegtenis geneem ná Veronique May (8) se liggaam Maandag in die Kamesh-omgewing in Kariega gevind is. Die polisie het die moord as “brutaal” beskryf.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens voorlopige inligting het Veronique se familie haar Sondag ná 17:00 by die Kamesh-polisiekantoor as vermis aangemeld. ’n Soektog is onmiddellik geloods.
Tydens ondersoek is vasgestel saam met wie die dogtertjie laas gesien is en die polisie het die betrokke man opgespoor. Vir sy eie veiligheid is hy deur die polisie na die polisiestasie geneem, aangesien die gemeenskap reeds onrustig geraak het. Ná ondervraging het die verdagte die speurder na ‘n perseel in De Booistraat, Langa, geneem, waar Veronique se liggaam in een van die kamers gevind is. Die verdagte is op aanklag van moord in hegtenis geneem.
Die saak teen die verdagte sal Woensdag in die Kariega-landdroshof voorkom.





