LIMPOPO. – Mumsy Seribishane (52), ‘n verpleegster, het op 23 Oktober 2024 langs die hek van die Lebowakgomo-hospitaal aan skietwonde gesterf. Fannie Malope Seribishane (57) is na haar moord in hegtenis geneem.
Kol. Malesela Ledwaba sê Seribishane het Donderdag op aanklagte van moord, gesinsgeweld en die onwettige besit van ‘n vuurwapen, asook die onwettige besit van ammunisie, in die Lebowakgomo-landdroshof verskyn. Seribishane moet weer vanaf 4 tot 8 Augustus op die aanklagte teen hom in die hooggeregshof in Limpopo voorkom.
Die verpleegster is op die betrokke middag omstreeks 17:00 op pad werk toe langs die ingang van die mediese fasiliteit doodgeskiet. ‘n Saak is oopgemaak, waarna Seribishane op 13 November 2024 met ‘n intelligensiegedrewe operasie gearresteer is. Tydens inhegtenisneming is ‘n polisievuurwapen en ammunisie, wat in Junie 2024 in die Seshego-gebied as gesteel aangemeld is, in die beskuldigde se besit gekry. Die polisie het ook op ‘n VW Golf 7 wat glo tydens die misdaad gebruik is, beslag gelê. Seribishane het nie vir borg aansoek gedoen nie.
Die ondersoek duur voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





