GAUTENG. – ‘n Manlike verpleër (49) van Duduza, in diens van Netcare N17-privaat hospitaal, het op aanklagte van verkragting van ‘n tienerseun (17) in die Nigel-landdroshof voorgekom.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê daar is ook ‘n aanklag van seksuele aanranding van ‘n jong man (19) teen die verpleër gemaak. Na bewering is die tienerseun in Augustus 2023 in die hospitaal opgeneem en ontslaan nadat sy mediese fonds uitgeput is.
Die beskuldigde het glo aangebied om steeds tuis na hom om te sien, totdat hy ten volle herstel het. Na bewering het die verpleër, wanneer hy die seun se huis moes verlaat, hom gevra om saam met hom na sy motor te gaan en het dan met hom na ‘n nabygeleë veld gery waar die seun seksueel aangerand is. Tydens twee insidente is die seun na bewering in die motor verkrag. Lede van die gemeenskap wat verby die toneel gedraf het, het na bewering op verskillende tye op die beskuldigde in sy motor met verskillende seuns afgekom.
Mahanjana sê die gemeenskap het die beskuldigde op 12 Februarie gekonfronteer en die polisie gebel, waarna die beskuldigde en die seun na die polisiestasie toe geneem is, waar die seun vertel het wat gebeur het. Terwyl hulle daar was, het nog ‘n seun met aanklagte na vore gekom. Die beskuldigde is gearresteer en is steeds in aanhouding.
Die saak is vir formele borgaansoek tot 21 Februarie uitgestel.
Nuusflits het kommentaar van Netcare gevra.





