GAUTENG. – ‘n Versending kokaïen ter waarde van R6 m. is Dinsdag op OR Tambo Internasionale Lughawe onderskep.
Lt.kol. Amanda van Wyk sê die polisie en doeanebeamptes het die besending, wat volgens die voorlopige ondersoek vanaf São Paulo in Brasilië onderweg na Frankryk in Suid-Afrika opgemerk is, gekonfiskeer. Die dwelmmiddels is as haarprodukte in bokse weggesteek. Die ondersoek duur voort.
In ‘n afsonderlike voorval is ‘n Nigeriese burger (55) op dieselfde dag as ‘n beweerde dwelmmuil, ook vanaf São Paulo in Brasilië, op Ortia gearresteer. ‘n Mediese ondersoek met ‘n X-straal het die vermoede van “kokaïen-koeëls”, wat deur die verdagte ingesluk is, bevestig. Die verdagte sal op aanklagte van dwelmhandel in die Kempton Park-landdroshof voorkom.
Van Wyk bevestig voorts die polisie het gedurende Februarie korte mette gemaak toe nog twee beweerde dwelmmuile met kokaïen en ‘n geskatte straatwaarde van R7.5 m. op Ortia in hegtenis geneem is.







