GAUTENG. – Theunus Rossouw (9) van Germiston is geopereer nadat hy verlede maand per ongeluk drie magnete ingesluk het waarmee hy in sy mond gespeel het. Die ingeslukte magnete het tot ernstige komplikasies gelei en na verskeie operasies moet die jong seun onder streng waarneming tyd in die hospitaal deurbring.
Tanya Rossouw, Theunus se ma, het die nare ondervinding op 11 Mei op Facebook gedeel. Theunus is omtrent twee weke nadat hy die magnete ingesluk het, met maagpyn na Ongevalle gehaas. Kort nadat hy ‘n voorskrif gekry en huis toe is, het ‘n dokter wat bloedtoetse gedoen het, gesê Theunus se infeksietelling is hoog en hy moet dadelik in die hospitaal opgeneem word. Met ‘n CT-skandering is daar gesien hoe die magnete, twee aan een kant in sy derms en een in sy kolon, beland het. Dit het na mekaar toe getrek en gate in sy derms en kolon gemaak, wat ‘n lekkasie veroorsaak het.
Die gevolg was dat Theunus ‘n noodoperasie moes ondergaan, waarna hy na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas is. As gevolg van nog lekkasies moes hy verskeie opvolgoperasies ondergaan. Die tyd wat Theunus in die hospitaal moet deurbring, plaas ‘n geweldige finansiële las op sy ouers. Nikita Mare het ‘n skarebefondsing-profiel begin, waar bykans 30% van die beoogde bedrag ter ondersteuning reeds ingesamel is.
Kry Theunus se BackaBuddy profiel hier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





