Versorgers weer in hof ná bejaarde vrou beserings opdoen

Lees ook :

Foto: Specialised Security Services

VRYSTAAT. – Ses vroulike versorgers het gister (Dinsdag) in die Welkom-landdroshof voorgekom nadat ‘n bejaarde vrou (81) in ‘n versorgingsoord in Dagbreek, Welkom, met beserings aan haar liggaam aangetref is. Die verdagtes staan op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering en oortreding van die wet op bejaardes tereg en verskyn vandag weer in die hof.

Sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die verdagtes is Anna Fourie (73), Lynette Brummer (64), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33). Die klagtes teen die versorgers spruit uit ’n voorval op Maandag 7 Julie toe Lynette Brummer, die bestuurder van die sentrum, die klaagster in die saak gebel het en gesê het die bejaarde vrou weier glo om haar medikasie te neem.

Met aankoms by die versorgingsentrum het die klaagster glo bloed en beserings aan die slagoffer se gesig, hande en arms opgemerk. Die slagoffer is verder onder uiters nat en koue toestande aangetref. ’n Ondersoek het onthul dat die slagoffer vermoedelik mishandel is. Daar is bevind dat haar hande en nek met kleefband vasgebind en haar gesig bedek was. Vier vroulike verdagtes is op 7 Julie in hegtenis geneem.

Die polisie het ’n rol swart kleefband sowel as stukke kleefband met bloed daarop gekonfiskeer. Verdere ondersoek het Maandag tot die inhegtenisneming van Mofolo en Moloi gelei. Hulle het dieselfde dag vir ‘n eerste keer in die hof verskyn. Al die verdagtes was gister vir ‘n formele borgtogaansoek in die hof.

Die ses verdagtes is steeds in aanhouding en sal weer vandag in die Welkom-landdroshof voorkom.

Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) het die versorgingseenheid as die Silver Village geïdentifiseer. Hy sê voorts die staat het bevestig dat borgtog in die saak teengestaan sal word. Die saak het aan die lig gekom nadat ‘n video versprei is waarin die slagoffer, wat glo net sowat 40 kg weeg, gewys word waar sy met kleefband vasgebind is. Haar mond en hande was bedek en sy was nie in staat om te skree of haarself te verdedig nie. Sy het blykbaar vir ’n geruime tyd gely voordat ingegryp is.

Die slagoffer is intussen in ’n hospitaal opgeneem en haar toestand word gemonitor. Die volle omvang van haar fisieke en psigologiese trauma word nog bepaal. Volgens ondersoekbeamptes word verdere inhegtenisnemings verwag en kan daar bykomende aanklagte ingestel word. Die getuienis dui daarop dat die voorval moontlik deel is van ’n wyer patroon van mishandeling binne die fasiliteit.

Die toepassing van die Wet op Ouer Persone in hierdie saak is belangrik. Dié wet, wat op 1 April 2010 in werking getree het, beoog om die regte en waardigheid van bejaarde persone te beskerm en mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting strafregtelik aanspreeklik te maak.

Lees die volledige verklaring van SSS hier.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief